Uit "Beeld van 'n Jeug: Duif en Perd" deur N.P. van WYK LOUW [boodskap #45790] |
Wo, 04 Julie 2001 17:00 |
|
Oorspronklik gepos deur: @home.com
Uit "Beeld van 'n Jeug: Duif en Perd."
N.P. van Wyk Louw
Bêrend, die jong, kom die hings uithaal;
draai die kraan wyd, tap eers die balie vol,
dat dit skuim van die water, stap deur die duiwe
wat wip uit sy pad uit; dan laat hy val
die staldeur se dik grendelblok uit die mikke.
Dit runnik daarbinne, sag, en die pote
stommel en glip op die ronde stalklippe;
dan beur hy die deur uit, die swart grote,
sy kop skuins van die halter, die oog
wit gedop van die rem, daaróór hang die maanhaar;
en die neusgate voel, voel reeds aan die lug,
spuls en wyd; sy voorbors die staan
skeef die deur vol, gebult soos 'n kneukel.
Maar Bêrend lei die dier uit in die son; haak,
om die halter korter te vat; laat trap hom
oor die balk met dun bene versigtig. Dan begin haal
die hings uit, weeldrig van koringvreet:
hy ruk sy nek op en trap agteruit
weg van die halter; hy ruk die jong saam
en skop die kombuishout rond in die gruis.
My duiwe vlieg op soos water wat spat
met 'n klip in die put, en vlug oor die dakke.
'Ho!Ho!" Maar dan steier die hings; sy pote
graaf wind en die kruis trek nog platter
en hy ruk die jong hierkant, tót die laat los.
"Aaits jy vreet pitvoer!" Dan Hóórt die agterplaas
aan die swart hings; hy dreun die heining langs,
speel na die hek toe, lig sy nek hoog en blaas
na die plaaspad se kant en die rante toe.
Maar Bêrend ken sy werk en ken sy perd.
Ek help dit vaskeer. Die halter word gegryp.
Dan kóm die hings krom-nek en hoë-stert
pronk-pronk na die waterbalie toe,
drink dorstig met sy riem vas om die paal;
blaas rimpeltjies; tel sy kop skielik op,
en laat die druppels deur die sonlig straal
op die groot hoewe. Die jong is haastig vir tuin toe.
Die hings word kort aan sy bek gevat;
en, magtig, gebonde, beheers en mooi,
die stal ingelei; en die grendelhout val vas.
|
|
|